Het jy al polentaskyfies beproef? Stel hierdie koel, smaaklike resep op die proef vir middag- of aandete.
Genoeg vir 2-4
Bereiding: 15 min.
Verkoel: 30 min.
Gaarmaak: 40 min.
2 hoenderkwarte
5 ml (1 t) komyn
5 ml (1 t) fyn koljander
10 ml (2 t) paprika
5 ml (1 t) rooipeper
1 rooi brandrissies, gekap
20 ml (4 t) olyfolie
’n hand vol pietersielie, fyn gekap
sout en peper
Polentaskyfies
875 ml (3½ k) hoenderaftreksel
250 ml (1 k) kitspolenta
30 g botter
40 g mozzarellakaas, gerasper
sout en peper na smaak
olyfolie vir verf
5 knoffelhuisies
Voorverhit die oond tot 180 °C en voer ’n bakplaat met bakpapier uit.
- Plaas die hoender in ’n mengbak. Voeg al die oorblywende bestanddele vir die hoender bymekaar en vryf die speserye oor die hoender. Verkoel 30 min. of langer sodat die speserye die hoender geur.
- Plaas op ’n roosterpan en bak 40 min. of tot deurgaar.
- Polentaskyfies: Plaas die aftreksel in ’n groot kastrol oor matige hitte en bring tot kookpunt. Klits die polenta geleidelik in en kook 2 min. of tot verdik terwyl jy roer.
- Verwyder van die hitte, voeg die botter, kaas, sout en peper by en roer om te meng. Skep die polenta op die bakplaat en versprei tot 1 cm dik. Verkoel 30 min. of tot geset in die yskas.
- Sny die polenta in vingers en plaas dit op ’n bakplaat. Verf die vingers met olie. Bestrooi met knoffel en bak 15 min.
- Sit die speseryhoender met die polentaskyfies voor.
Deur Hope Malau
Foto: Megan Miller