Maak aandete spesiaal met hoenderborsies wat met kaas en pesto gevul en in spekvleis toegedraai is. ’n Mens kan gekoopte pesto gebruik om tyd te bespaar.
GENOEG VIR 4 MENSE
Bereiding: 15 min.
Gaarmaak: 20 min.
PESTO
2 groot hande vol vars koljander
3 knoffelhuisies
45 g amandels, gerooster
125 ml (½ k) olyfolie
HOENDER
250 g strepiespekvleis
4 hoenderborsies
80 g mozzarella, in skywe gesny
15 ml olie
Voorverhit die oond tot 180 ˚C.
- Pesto Meng die koljander, knoffel en amandels in ’n verwerker. Terwyl jy dit verwerk, voeg die olie in ’n egalige stroom by tot goed gemeng.
- Hoender Plaas 4 repe spekvleis oop op ’n bord. Kap die hoender met ’n houthamer effens dunner. Plaas die hoenderborsie in die lengte van die spekvleis en smeer die pesto oor die hoenderborsie.
- Bedek met die kaas en rol op. Steek met tandestokkies vas. Verhit die olie in ’n braaipan oor matige hitte en braai die rolletjies alkante.
- Plaas 10 min. in die oond of tot deurgaar. Trek die tandestokkies uit en sny in skywe.
Deur Hope Malau
Foto: Misha Jordaan