Hierdie basiese omelet kan met enige van jou gunstelingbestanddele gevul word.
Genoeg vir 2 mense
Bereiding: 5 min.
Gaarmaak: 10 min.
50 g botter
2 preie, in dun skywe gesny
½ rooi soetrissie, fyn gekap
2 knoffelhuisies, fyngedruk
100 g babaspinasie
sout en peper
6 eiers
’n hand vol pietersielie, gekap
60 ml (¼ k) olyfolie
50 g feta, gekrummel
ekstra spinasie
- Smelt die botter in ’n groot braaipan oor matige hitte. Voeg die preie, soetrissie en knoffel by en braai 5 min. of tot die preie sag is terwyl jy af en toe roer. Voeg die spinasie by en roer deur. Braai nog 30 sek. of tot die spinasie verlep is. Geur met die sout en peper.
- Klits die eiers, pietersielie en 15 ml (1 e) koue water in ’n groot bak. Verhit 30 ml (2 e) van die olyfolie in ’n 20 cm kleefwerende pan oor matige hitte. Voeg die helfte van die eiermengsel by en swaai die pan om die bodem te bedek. Braai 2 min. of tot die bokant amper geset en die basis goudkleurig is.
- Skep die helfte van die spinasiemengsel oor die helfte van die omelet. Vou die omelet oor om dit toe te maak. Laat gly dit op ’n bord uit en bestrooi met die helfte elk van die feta en ekstra spinasie. Herhaal met die oorblywende olyfolie, eiermengsel, spinasiemengsel en feta.
Deur Hope Malau
Foto: David Briers