Hierdie verslawende rysballe word gewoonlik met ’n vleissous gevul, maar beproef hierdie opwindende kaasvariasie.
Lewer 15 balle
Bereiding: 20 min.
Gaarmaak: 30 min.
60 g botter
2 uie, fyn gekap
250 ml (1 k) Arborio-rys
1 L (4 k) hoenderaftreksel, warm gemaak
60 ml (¼ k) parmesaankaas, gerasper
2 takkies roosmaryn, gekap
sout en peper
200 g mozzarella, in klein blokkies gesny
125 ml (½ k) meel
2 eiers
500 ml (2 k) broodkrummels
olie vir braai
- Smelt 30 g botter in ’n pot oor matige hitte. Voeg die uie by en braai tot sag. Roer heeltyd. Voeg die rys by en braai tot gerooster. Roer heeltyd.
- Voeg die aftreksel ’n koppie op slag by. Roer 20 min. deurgaans en laat kook tot die rys sag is. Verwyder van die hitte en roer die oorblywende botter en parmesaan in. Voeg die roosmaryn by en geur na smaak met die sout en peper. Skep die rysmengsel in ’n bak en laat heeltemal afkoel.
- Roer die blokkies mozzarella in en vorm die risotto in gholfbal-grootte balle. Plaas die meel, eiers en broodkrummels in drie vlak bakke. Klits die eiers liggies. Bestuif elke bal met die meel, doop dan in die eiermengsel en bedek met broodkrummels. Pak op ’n bakplaat.
- Verhit die olie in ’n pot oor matig-hoë hitte. Braai die balle in sarsies sowat 3 min. of tot goudbruin. Dreineer op kombuispapier.
Deur Hope Malau
Foto: Misha Jordaan